Voetspore in die sand
Written by Stephanie Conradie on 27 November 2022
Soms voel dit of jy alleen stap en daar net een ry voetspore in die sand is. Dat God, familie en vriende jou verlaat het en jy alleen die lewe se swaarkry in die gesig staar.
Daar is ‘n pragtige verhaal van ‘n klein miertjie wat op die oor van ‘n groot olifant saamgery het. Op ‘n stadium moet die olifant ‘n rivier oorkruis waarvan die stroom baie sterk is. Die enigste manier om die rivier veilig oor te steek is om oor die wankelrige hangbrug te loop. Trappie-vir-trappie, en al swaaiend, loop die olifant stadig oor die hangbrug wat net-net die swaar gewig kan dra. Uiteindelik is die olifant en die miertjie veilig oor die brug, toe die die miertjie sê: “Shoe maar daardie brug het ons twee nou behoorlik laat bewe.”
Alhoewel die miertjie nie vreeslik hard gewerk het om die brug oor te steek nie, was dit tog die twee van hulle wat sáám die brug oorkruis het.
Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou… Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou.
Jesaja 41:10,13
Dit is dieselfde met ons wat die pad saam met Jesus aanpak. Hy is ons leidsman en krag terwyl ons die pad saam met hom stap. Dit voel soms vir ons of ons die pad alleen stap en die harde realiteite alleen in die gesig moet staar, maar wanneer jy by die Here stilraak en Jesus se naam aanroep, dan besef jy hoe Hy nog heeltyd saam met jou is en dat Hy die stryd nog heeltyd namens jou stry.
Dit laat my ook dink aan die bekende ‘Voetspore gedig’ oorsproklik deur Margaret Fishback Powers waar daar soms twee rye spore in die sand is, maar ander kere net een ry spore in die sand is, en hoe daar ‘n besef is dat dit juis deur daardie een-ry-spore- tye is wat die Here jou gedra het.
Voetspore in die sand gedig
Een nag het ek ’n droom gehad.
Ek het gedroom dat ek op die strand loop
en gebeure uit my verlede het voor my afgespeel.
In elke toneel het ek twee rye voetspore in die sand gesien:
myne en die Here Jesus s’n.
Toe die laaste toneel voor my afspeel‚
het ek teruggekyk na die voetspore in die sand
en merk toe op dat daar soms net een ry spore was.
Dit was telkens gedurende die eensaamste en droewigste tye in my lewe!
Dit het my gehinder en ek het gevra:
“Here‚ toe ek begin het om U te volg‚ het U beloof dat U my nooit in die steek sal laat nie.
Hoekom was daar dan net een ry spore gedurende daardie moeilike tye in my lewe?
Ek kan nie verstaan waarom U‚
in die tye wat ek dit die nodigste gehad het‚ my verlaat het nie.”
Die Here het geantwoord: “My liewe kind!
Ek het jou lief en sal jou nooit verlaat nie.
Die tye wat jy net een ry spore gesien het
was die tye toe Ek jou gedra het.”
Mag jy vandag, soos die klein miertjie, die rit saam met die groter krag (Jesus) aanpak , en veilig jou wankelrige hangbrug oorkruis.
Vir meer inspirasie lees ons dagstukkies, Die Woord vir Vandag of luister na ons potgooie op iono.fm.