Vernuwe met oorgawe
Written by Stephanie Conradie on 6 June 2022
Dit kan aanvanklik angswekkend lyk om ‘n nuutgebore Christen te wees. Om al die sogenaamde ‘prettige’ dinge wat die wêreld bied, prys te gee, kan ingewikkeld wees. Maar God belowe ons soveel meer as wat hierdie wêreld ooit vir ons kan gee.
Jakobus 1:12 sê:
Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.
Maak dit jou nie opgewonde om te weet dat jou lewe op soveel maniere geseën sal wees nie? En om alles te kroon, sal jy die ‘oorwinningsprys’ ontvang…WOW!
Kolossense 3: 8-10 verduidelik dat ons heeltemal vernuwe moet word, tot God se nuwe weergawe van onsself. Hoe doen ons dit? Deur onsself aan God se proses van vernuwing te verbind en Sy Woord te gehoorsaam.
Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie, en moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God
Om vernuwe te word is nie so moeilik nie. Wanneer jy God leer ken en jou daartoe verbind om ‘n lewe met Jesus Christus as jou Verlosser te leef, gebeur dit alles soos jy in geloof groei. Jy sal nie anders wil leef nie, en al die ‘sondige gewoontes’ waarna Kolossense verwys sal minder word en verdwyn sonder dat jy baie hard hoef te probeer.
Jesus lei ons in die vernuwing van ons denke en die Heilige Gees, ons Helper, is daar om ons by te staan.
Mag jy, met oorgawe, jou denke vernuwe en jou lig op ander laat skyn.
Vir daaglikse inspirasie, lees Die Woord vir Vandag of luister na die Radiokansel-potgooie op iono.fm.