U het my wonderbaarlik gemaak!
Written by Stephanie Conradie on 20 October 2022
Het jy al gewonder waarom jy doen wat jy doen? Waarom pla dinge jou so, wat ander mense glad nie pla nie? Waarom raak jy opgewonde oor sekere dinge?
U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.
Ps. 139:13-17
‘n Mens se persoonlikheid – die manier hoe God ons aanmekaar geweef het – is die rede! Almal van ons het ‘n dominante persoonlikheid en as mens jouself beter verstaan en ken, maak somige dinge sommer net baie beter sin.
Ken jy die vier basiese persoonlikhede? Weet jy in watter een jy meer dominant is? Identifiseer jy jouself dalk in een van die volgende persoonlikheidstipes:
- Choleriese persoonlikheid:
Sterk leier, hou van “in beheer” wees, kan maklik delegeer, kan kwaai en koud voorkom, is meer taak geörienteerd, hou van konflik.
- Flegmatiese persoonlikheid:
Kalm, raak nie sommer emosioneel opgesweep nie, vrede-maker, emosioneel baie stabiel, rustige geaardheid, hou nie van konflik nie.
- Sanguiniese persoonlikheid:
Lewe om sosiaal te verkeer, ekstrovert, praat hard en baie, lag luidrugtig, het baie vriende, baie besig, kan nie stilsit nie, altyd opsoek na avontuur, verkies kuier bo werk, mense geörienteerd.
- Melankoliese persoonlikheid:
Kunstenaars-temperament, kunstig, hou van fyn detail, perfeksionisties, emosioneel, sukkel soms om besluite te neem, hou van opvoerings ens.
Elkeen van hierdie 4 basiese persoonlikhede het ‘n plek waar hul “batterye gelaai” word – ‘n belangrike bestandeel wat nodig is om innerlik gesond te wees.
Die Choleriese persoonlikheid geniet take – om produktief te wees is vir die Choleriese Carel of Carla wat hom / haar energie gee. Besigheid = vervulling.
Sanguiniese Sarel of Sunet, geniet avontuur. Hoe meer pret, hoe beter. Hulle moet tussen mense wees. ‘n Sanguiniese persoon moenie te lank alleen wees nie. Alleenheid dreineer hul energie! Mense en avontuur laat hul blom.
Flegmatiese Freddie of Frieda verkies alleen-tyd. Niks dreineer hul energie meer as om vir te lank tussen mense te wees nie. Alleen-tyd is hul kos!
Melankoliese Marius of Marieta verkies orde en roetine – dit kalmeer hul. En hoe meer detail, hoe beter! Hul is baie ingestel op fyn detail.
Kon jy jouself identifiseer?
Elkeen van hierdie persoonlikhede kan kragdadiglik deur God gebruik word. Elkeen het spesifieke eienskappe wat die ander een nie het nie. En wanneer ons onsself beter ken, verstaan ons ook sommer onsself beter – sowel as ons gesinslede. Baie misverstande kan vermy word as ons mekaar se persoonlikhede beter verstaan. Baie struwelinge met ons kinders kan vermy word, of anders hanteer word, as ons ons kinders se persoonlikhede beter verstaan.
Ontdek wie JY is en hoe God JOU aanmekaar geweef het. Dis belangrike komponent om ‘n gesonde, vol-mens te kan wees wat sy talente en potensiaal, wat God in hom / haar geplaas het, uit te leef!
Geskryf deur Sanet Deysel
Vir meer inspirasie lees gerus ons dagstukkies, Die Woord vir Vandag. of luister na ‘n potgooi op iono.fm.