Hoe kinders van God vandag staande kan bly
Written by Han@Pulpit on 8 May 2023
Ons lewe in tye waar daar druk van alle kante af kom, en dan voel dit soms of die bene wankel en die moed min raak. So hoe kan ons staande bly in moeilike tye?
Psalm 35:2 gesels oor twee skilde; “Gryp die klein skild en die grote en staan op as my hulp,” waarom twee en wat is die verskil?
Die goot skild kon twee vegters teen pyle en spiese wat van vêr na hulle gewerp is veilig hou. Dit was egter so swaar dat die een vegter net die skild kon dra en nie dan ook met ‘n swaard of dolk kon veg nie. Die ander vegter het die klein skild, wat lig was en hom toegelaat het om met ‘n wapen te veg, gedra. In ‘n geveg sou die twee rug teen rug veg, met die een wat teen lang-afstand aanvalle verdedig terwyl die ander teen naby-aanvalle veg.
Veg saam
Net soos dié vegters is ons ook in ‘n geestelike oorlog en het ons mekaar nodig in ons stryd teen Satan en sy bondgenote. Ons moet ook rug teen rug staan, saam veg en die pyle vir mekaar afweer. Ons is daar om mekaar te ondersteun en te bemoedig en soms selfs ook, indien nodig, terreg te wys.
Ons opdrag is om mekaar lief te hê en daarom moet enige terregwysing met die grootste deernis en liefte gedoen word. 1 Corinthiërs 13 sê: Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal geword.”
Ons kan ander opbou of afbreek, en dit is belangrik om te onthou dat ons optrede nie in eie belang moet wees nie maar in die belang van die Evangelie, die verkondiging van die Woord en om mekaar die Koninkryk in te help. Die wederkoms kom nader en daarom moet ons onsself voorberei vir die toekoms – vir ‘n tyd wanneer die stryd in velheid gaan toeneem en ons soveel te méér geroep sal word om mekaar te verdedig en te ondersteun.
Kry jou huis in order
Dit maak nie saak of die wederkoms binne weke is of eers oor 50 jaar of meer nie, ons laaste dag kan enige oomblik aanbreek. Dít moet ons nie met vrees vervul nie, maar eerder ons roep om ons verhouding met die Here en met ons geliefdes en medemens in orde te kry sodat ons met vreugde daarna kan uitsien.
Ons moet seker maak ons is gereed om voor die Here te staan en ons moet alles in ons vermoë doen om ons gelieftes en soveel mense moontlik te help om die Koninkryk van ons Here Jesus Christus in te gaan. Dít is tog waaroor alles gaan, waarvoor ons geroep is en waarvoor ons veg! Dit is vir dié geveg waarvoor ons die skild opneem en ons wapenrusting aan trek. Ons interaksie met ander het ‘n impak, óf om op te bou óf om af te breek, en kan uiteindelik ons plek in die Koninkryk van God beïnvloed.
Bid vir leiding en eerlikheid, sodat ons op die werklike belangrike dinge in die lewe kan fokus en strewe na ‘n lewe van vernuwing in Christus. In hierdie uitdagende tye het ons mekaar se ondersteuning en aanmoediging nodig, selfs as dit terregwysing verg.
Terregwysing moet altyd in liefde en in deernis gedoen of aanvaar word. Laat ons ons beywer om mekaar op te bou, op ‘n nuwe lewe in Christus Jesus te fokus en op God se leiding langs die pad te vertrou. Kom ons anker ons in Hom, dit is ons enigste anker waarin ons kan vrede vind.
Vir daaglikse bemoediging lees gerus Die Woord vir Vandag, of luister na ‘n potgooi van die program “Delf steeds dieper” waarop hierdie skrywe basseer is.
Die menings wat hierin uitgespreek word, is dié van die aanbieders en nie Radiokansel nie.