Deon en Karin du Toit staan aan die hoof van Huweliksfokus, ‘n interkerklike bediening met die visie om huwelike volgens God se plan te herkalibreer. Hulle is beide hoogs gekwalifiseerde lewensafrigters, trauma-beraders, mediators en dien as mentors vir baie mense. Deur hul unieke en innemende styl is hulle gewild vir hul werk in huweliksvoorbereiding, huwelikseminare, huweliksberading, hersaamgestelde huwelike, ouer-kind verhoudinge, kommunikasie- en konflikhantering, finansiële beginsels volgens God se woord, asook manne- en vrouekampe.
Deon en Karin is in Maart 1977 getroud en het twee getroude seuns en agt kleinkinders, waarvan die oudste kleindogter reeds getroud is. Die eerste dekade van hul huwelik het Deon as professionele musikant gewerk, terwyl Karin haar aan die opvoeding van hul kinders gewy het. In 1988 het hulle saam die entrepreneurswêreld betree.
In 1994 het hulle ‘n Huweliksfokus-naweek bygewoon, waar hulle ‘n lewensveranderende ontmoeting met Jesus Christus beleef het. Hierdie ervaring, gekoppel aan verdere studies in God se Woord, het hulle lewe en huwelik ingrypend verander. Die passie om gesonde en gelukkige gesinne te help skep, het in hulle harte ontvlam, en in 1996 het hulle as vrywilligers by Huweliksfokus aangesluit. Sedert 2001 staan hulle aan die stuur van hierdie bediening, met ‘n vaste oortuiging dat:
elke huwelik herstel kan word en dat elke gesin gesonde, gelukkige verhoudings kan beleef.
Oor die afgelope dekade was hulle gereelde gaste op verskeie Radiokansel-programme. Vanaf 1 Julie het hulle hul eie program, “Verhoudingsdinge met Deon en Karin,” op Maandagoggende begin. Hulle sien dit as ‘n goddelike geleentheid om hul kennis en ervaring oor verhoudings te deel en sodoende toekomstige geslagte vir Jesus Christus te beïnvloed.
Indien jy ‘n program gemis het, luister gerus na die potgooi, “Verhoudingsdinge.”