God kan met ‘n krom stok ‘n reguit hou slaan
Written by Stephanie Conradie on 12 April 2023
Kan God met ‘n krom stok ‘n reguit hou slaan? Wat beteken hierdie stelling? Vir my, is dit ‘n mooi beskrywing van genade. Genade? Waar pas genade in hierdie prentjie? mag jy dalk vra.
Wanneer ek aan my eie tekortkominge as ‘n ouer, as ‘n mamma, as ‘n onvolmaakte mens dink en hoe baie ek al vir my kinders moes sê dat hul asb nie na my moet kyk en dink dis hoe ‘n Christen veronderstel is om te wees nie (want ek skiet so ver te kort!) – dan kom hierdie sê-ding altyd by my op. Want dit is daar waar ek ‘n stil gebed in my binneste doen wat sê: “Ag Here, slaan asb ‘n reguit hou met hierdie krom stokkie van ‘n ma. Here slaan asb ‘n reguit hou met my kinders!”
Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik.”
Markus 10:27
God kan jou gebruik
Genade kry ander betekenis wanneer jy besef dat jy ‘n krom stok is, maar dat God steeds ‘n reguit hou deur jou kan slaan:
- As jy iemand na Hom toe lei terwyl jy voel jy val oor jou eie woorde – dis ‘n reguit hou!
- Wanneer jy jou tiener-kind vashou wanneer sy / haar hart gebreek is en jy nie eintlik weet hoe om te troos nie – dis ‘n reguit hou!
- Jy vir iemand op die pad ‘n kans gee om te ry maar jy is eintlik haastig – dis ‘n reguit hou!
- Jy ‘n lekker koppie koffie vir jou man / vrou aanbied na ‘n lang, moeilike dag op kantoor en jy self maar lam en tam voel – dis ‘n reguit hou!
- Jy vanaand as jy gaan slaap, jou afhanklikheid van God besef en erken – dis ‘n reguit hou!
En so kan die lys aangaan. Want God slaan baie sesse en “home runs” met ons, sonder dat ons dit ooit besef! En dis dalk beter so, want anders mag ons dalk ons nederigheid verloor. Want nederigheid is iets wat jy verloor die oomblik wat jy dink jy het dit.
In bekwame hande
As ‘n mamma van ‘n talentvolle jong krieketspeler, ken ek dit al te goed dat dit nie oor die kolf in die hand gaan nie, maar oor die speler wat hom vashou. Dis nie die kolf wat die sesse slaan nie, maar die een wat dit vashou. Want sonder die speler se talent en bekwame hande, kan daardie kolf niks doen nie. Dis ‘n stuk hout met ‘n paar plakkers op met ‘n “grip”. Maar plaas daardie kolf in ‘n gesoute krieketspeler se hande dan word daardie stuk hout met die plakkers op en ‘n “grip” ‘n instrument wat tref-houe slaan.
Dit is daai oomblikke van “Net die Here…”. Geen ander verduideliking nodig.
En dít is GENADE. Wanneer situasies uitwerk en jy nie weet hoe dit gebeur het nie, en jy voel jy dinge opgemors het, en die Here kom herstel als bo-natuurlik. Wanneer jy koel ek kalm in krisis-situasies is.
Dít is wanneer God ‘n reguit hou met ‘n krom stok slaan.
Geskryf deur Sanet Deysel.
Vir daaglikse bemoediging lees gerus Die Woord vir Vandag, of luister na ‘n potgooi op iono.fm.
Die menings wat hierin uitgespreek word, is dié van die aanbieders en nie Radiokansel nie.