Moenie vrees nie
Written by Han@Pulpit on 17 August 2021
Ons leef in uitdagende tye en om te sê “moenie vrees nie” klink bykans onmoontlik, maar vandag wil ek jou bemoedig om presies dit te doen.
Jy mag dalk voel dat jy alleen deur die ‘dal van doodskaduwee’ gaan. Of deur ‘n tyd wat bitterlik swaar is; ‘n tyd van enorme geestelike en emosionale isolasie waar jy voel dat niemand verstaan nie. Niemand is aan jou kant nie, en niemand gee om nie.
Jy mag dalk selfs voel dat die aanhoor van die Woord leeg begin raak het vir jou. Dat die klank daarvan hol is, en nie meer die diepste gange en hoeke van jou siel tref en inspireer soos in die verlede nie. Ek weet hoe dit voel, ek was al daar. Wat ook al jou indrukke en gevoel mag wees, wil ek jou graag bemoedig om weet dat daar wel Een is wat die donkerste van alle nagte beleef het met ‘n intensiteit wat ons nooit werklik sal kan verstaan nie.
God met ons
Hy, wat ons Jesus noem, het sweetdruppels van angs gebid en Sy Almagtige Vader gevra om die lydensbeker by Hom te laat verbygaan. Sy Vader se antwoord was, “nee.” Net so kry ons ook dikwels ‘n “Nee” van ons Vader. Ons verstaan dalk nie hoekom nie, maar eendag sal ons.
Lees ook: Is daar ‘n verskil tussen geloof en vertroue op God?
Nou kyk en sien ons – soos Paulus sê in 1 Korintiërs 13:12, in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien, soos dit werklik is. Of, soos wat Deuteronomium 29:29 dit stel;
Die verborge dinge is vir (behoort aan) die Here onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid.
Wanneer jy nie meer weet nie, mag dit genoeg vir jou wees om te wéét dat God met jou is, as Immanuel. Dat Hy vir jou is, Hy wat Sy seun nie gespaar het nie (Romeine 8:32). Dat Hy alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet (Romeine 8:28).
Mag dit genoeg wees vir jou om te weet dat – en so bid ek ook vir jou uit Jesaja 43:1-8 (1953);
MAAR nou, so sê die Here, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere — hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.3 Want Ek is die Here, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland; Ek het Egipte gegee as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek.
Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek en volke vir jou lewe. Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; Ek sal jou geslag van die ooste af aanbring en jou versamel van die weste af. Ek sal sê aan die noorde: Gee! en aan die suide: Hou nie terug nie! Bring my seuns van ver, en my dogters van die einde van die aarde af, elkeen wat na my Naam genoem is en wat Ek geskape het tot my eer, wat Ek geformeer, wat Ek ook gemaak het. Bring uit die volk wat blind is en tog oë het, en die dowes wat ore het.
Mag jy die goedheid en guns, die alomteenwoordige liefde van ons Hemelse Vader in toenemende intensiteit beleef, vandag en in die dae wat kom. Genade, barmhartigheid en vrede sal met jou wees van God die Vader en van die Here Jesus Christus, die Seun van die Vader, in waarheid en liefde.
Geskryf deur Charles van Onselen. Luister gerus na hom tydens Spektrum, of vind sy potgooie op iono.fm.