Johann Els
Johann Els shows
Ds Johann Els is ‘n ervare radio aanbieder op Radiokansel 657AM en sanger wat reeds vanaf 1985 die evangelie van Jesus Christus verkondig. Hy beskryf homself as iemand wat God se eer sal verdedig sonder om ‘n sogenaamde ‘people pleaser’ te wees.
Agtergrond
Ds Johann is vir meer as 35 jaar reeds betrokke by Radiokansel. Sy ervaring in die radiobedryf het begin as een van die stigterslede van die universiteitsradiostasie, Radio Matie, en was ook betrokke by onder meer Jacaranda FM en Ofm. Hy het ook ‘n Baccalaureus Artium in Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf.
Saam met sy vrou Louise, wat hy as ‘n geskenk van God beskryf, is hy ook die trotse pa van vier. Lise, Johann, Johannes en Willem is sy trots en vreugde. Hy en sy vrou woon in Pringlebaai, ‘n klein kusdorpie in die Overberg-streek in die Wes-Kaap, en hy saai ook hiervandaan uit. Hulle het vanaf Bloemfontein na Pringlebaai verhuis, waar hy amper 21 jaar lank predikant by die NG Klipkerk was. Hy is nog steeds ‘n mentor vir baie jong predikers.
As kind wou hy altyd graag ‘n chirurg word. “Somtyds wens ek steeds ek was ‘n chirurg,” sê hy.
Sy oggend oordenkings, wat ‘n groot aanmoediging en daaglikse hupstoot vir luisteraars is, is ook gekombineer in ‘n boek genaamd ‘Dagbreek met God‘.
Ds Johann hou van musiek in al sy vorme en luisteraars kan ‘n groot verskeindeheid gospelmusiek in al die programme wat hy aanbied hoor. Hy leef elke dag voluit en egtheid, vreugde en hulp en omgee vir ander is sy passie. Sy liefde vir God en mense is tasbaar vir elke luisteraar, selfs al praat hy met duisende.
Jy sal hierdie en nog meer deur die verskillende programme wat hy aanbied ervaar wanneer jy inskakel saam met Johann Els op Radiokansel 657AM vir Dagbreek, Something Els of Spektrum.