Menu

Radiokansel

Tuis

Radiokansel Facebook Radiokansel Twitter

A+ A A-

GoeieNUUS Julie 2019 Uitgawe

Oorweldige reaksie op Radiokansel 657AM en Radio Kaapse Kansel 729AM se roep om hulp

Radiokansel 657AM en Radio Kaapse Kansel 729AM luisteraars en United Christian Broadcasters Africa (UCBA) ondersteuners het gedurende die laaste paar weke hul hart en hande oopgemaak om ons buurland, Mosambiek, te help. Nadat luisteraars gevra is om water, nie-bederfbare kos en klere te skenk, het nie Radiokansel 657AM of Radio Kaapse Kansel 729AM die oorweldigende reaksie om die hulpgeroep verwag nie. Hierdie mediaorganisasies is deel van die Kansel Media Groep (KMG) en het besluit om saam te werk om sodoende verligting aan mense in nood te bring na afloop van die verwoestende siklone Idai and Kenneth wat onlangs op Mosambiek toegesak het.

Luisteraars het meer as 12 ton water, klere en kos geskenk. Vir twee weke lank het skenkings by die radiostasies ingestroom en personeel het ingespring om te help om die goedere te verpak. Selfs besighede soos Globeflight het hul diens aangebied, hulle het as afstepunte gedien waarna goedere na die radiostasies vervoer is vir verpakking.

Dr Roelf Petersen, Besturende Direkteur van KMG, het gesê dat hy verstom staan deur die geweldige reaksie van luisteraars. "Ons het soveel skenkings ontvang dat ons die Suid-Afrikaanse Weermag (SANDF) genader het om te help met die vervoer van goedere na Mosambiek."

Volgens Dr Petersen is beide Radiokansel 657AM en Radio Kaapse Kansel 729AM baie bewus van die lojale luisteraars wat hulle het. "Ons het die meer as 260 000 luisteraars en 240 000 Facebook aangangers gevra om te help, maar ons was steeds verbaas oor die geweldige en vrygewige reaksie wat gevolg het. Buiten die goedere wat geskenk is, het luisteraars ook meer as R80 000 tot die projek bygedra sonder dat ons vir enige finansiële bydraes gevra het," het hy gesê.

"Personeel en vrywilligers het vir dae lank, selfs oor die Paasnaweek, gewerk om die goedere te verpak. Ons het elkeen ons deel bygedra - selfs my kleinkinders het deelgeneem. Dit was baie harde werk, maar dit was beslis die moeitewerd. Hierdie projek het ons harte baie bly gemaak, en dit het ons op ons kniee van dankbaarheid. Alle eer aan God."

Die area rondom 'n Christen radio produksiehuis in Chimoio, waar UCBA betrokke is, het geweldige skade gelei na afloop van die sikloon en mense is desperaat vir hulp. Die skenkings wat van luisteraars ontvang is sal na beide Chimoio en Beira versprei word. UCBA help met die oprig van Christen radiostasies en produksiehuise regoor Afrika met die doel om die Woord van God ver en wyd te verkondig.

UCBA is nie net in Chimoio betrokke nie, maar ook in Nampula in die noordelike dele van Mosambiek waar die mees onlangse radiostasie opgerig is, hulle het ook gehelp met die oprig van 'n kleuterskool naby die radiostasie. "As gevolg van UCBA se werk in Nampula, het die kinders wat voorheen buite onder bome of in die son moes sit, nou 'n gebou waar hulle skool kan gaan. Gelukkig is die radiostasie en kleuterskool nie deur die sikloon geraak nie," het Dr Petersen gesê.

Hy het afgesluit deur 'n spesiale woord van dank aan die SANDF. "Sonder die Suid-Afrikaanse Weermag se hulp sou ons nie in staat wees om 10 ton se goedere betyds na Mosambiek te vervoer nie, nou sal dit betyds daar wees om mense wat dit baie nodig het te help."

Gaan Na

Skakel met ons

ProudlySA

bg-004
bg-006
bg-003
bg-002
bg-001
bg-005