Kies om tot ruste te kom

Written by on 10 December 2022

Ons eindelose gejaag en moegheid blyk nooit tot ‘n einde te kom nie. Maak ‘n doelbewuste keuse om hierdie feestyd tot ruste te kom. Vind weer jouself, jou mense en jou God.

Dit is so asof namate ʼn mens die einde van die jaar sien naderkom, jy jouself in ʼn stroomversnelling bevind. Dié wat bevoorreg is om met vakansie te gaan moet tientalle reëlings tref. Is die diere versorg, sal iemand die plante natmaak, wat gebeur as die krag afgaan, weet die mense wat na ons veiligheid omsien dat ons met vakansie vertrek sodat hulle kan patrolleer? Is die motor padvaardig, is die kredietkaartsaldo van so ‘n aard dat jy daarop kan koop?

Dan natuurlik, is korrespondensie op datum, na alles, ʼn mens hou nie jou lewe in jou eie hande nie. Derhalwe, is die testament op datum en die dokumente so gebêre en gesorteer dat naasbestaandes dit kan kry?

Mensdom, dan begin jy wonder of jy nie maar net by die huis moet bly nie, daar is net te veel dinge wat in plek moet kom. Die van ons wat tuis bly dink desnoods aan ʼn Kersfunksie waarby die hele familie betrek is. Dis eweneens ʼn dol gejaag. Wie berei watter deel van die ete voor en vir hoeveel mense?

Koop ons geskenkies en indien wel, hoeveel geld spandeer ons daarop? By wie se huis kuier ons vanjaar? Wanneer word die kersboom versier en wie gaan die Jesus verhaal hierdie jaar vertel?

Besig, besig besig. Besluite besluite en nogmaals besluite.

Om te lewe in die oomblik

Ek wil voorstel, óf jy met vakansie vertrek óf tuisbly, begroot om elke oomblik te geniet. Dit help nie om pootuit by die nuwe jaar aan te kom en te dink dat jy goed gaan funksioneer nie.

Vertrek jy met vakansie, haal jou horlosie af die oomblik as julle in die motor klim. Verklaar dit dan hardop: “Ek, ons is nou met vakansie. Gister en eergister bly by die huis. Dit wat ons liefs wil vergeet bly tuis saam met die diere. Julle is nie genooi nie. As dit dan moet sal ons in die nuwe jaar die drade optel. Die wêreld sal nie vergaan as ons dit nou op die onafgehandelde-sake-rakkie neersit nie”.

Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is.

Psalm 23:2 (AFR83)

Hiermee ʼn vriendelike waarskuwing vir die werkoliste onder ons:

Vra jou ander helfte om te kontroleer dat die rekenaar, die ingewikkelde boek, die nog-nie-gedoen lysie, agter die motorhuis deure in die niet verdwyn, net vir die volgende week of drie. Niemand is so onmisbaar dat jy tot vervelens besig moet bly nie.

Trouens, ek wil jou uitdaag om te oefen om niks te doen nie.

Niks.

Goddelike rus

Net geniet, die lewe, die sonskyn, die berge en die see, die braaivleis en rooiwyn, die wilde diere en ongerepte natuur, die vars lug en die sterre hemel, die gawes van BO. Daar is net een saak op die agenda. Geniet en rus.

Immers, die Bybel praat van rus, dikwels.

God gun ons die rus, trouens, Hy rus van sy skeppingshandelinge leer die Woord ons.

Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

Matteus 11:28 (AFR83)

En as jy dan tuisbly, wie wil homself nou duisende kilometer in besige verkeer bevind, troos jy jouself. Doen presies dieselfde. Rus, geniet en leef voluit.

Mag hierdie feesseisoen heuglik en spesiaal wees. Immers, dit is waarom Jesus na hierdie wêreld gekom het. Om ons in Sy rus te laat deel.

Geskryf deur Jannie Pelser, luister gerus na sy programme, Naweek Aktueel en Perspektief. Vir daaglikse bemoediging lees gerus Die Woord vir Vandag.


Current track

Title

Artist

Background