God In Ons Midde
Written by Han@Pulpit on 22 August 2020
‘n Verhaal van hoe die wete dat God in ons midde is lewens verander.
Daar word ‘n verhaal vertel van ‘n groep monnike wat iewers in ‘n woud in Duitsland gewoon het. Daar was voortdurende onenigheid tussen hulle en dit het later die hoofpriester tot moedeloosheid gedryf. Op ‘n dag het hy sy mantel gevat, die monnike gegroet en in die woud God se aangesig gaan soek. Hy het glo nie vêr gestap nie toe hy tussen die bome ‘n klein houthuisie sien. Die deur het effens oopgestaan en hy het ingeloer. ‘n Ou man het by ‘n houttafel gesit en hom ingenooi. Terwyl hulle so sit en gesels, het die ou man die priester genooi om sy hart oop te maak en vir hom te vertel wat verkeerd is. Die priester het kort en kragtig vertel van die onenigheid tussen die monnike. Die ou man antwoord.
Gaan terug na die klooster toe en sê vir die broers dat Jesus in hulle midde is.
“Net dit?” het die priester gevra. “Dit is genoeg,” het die ou man geantwoord.
Daardie aand na aandete het al die monnike in die kapel bymekaargekom, angstig om te hoor wat God vir die priester gesê het. Sy boodskap was egter baie kort.
Die Here sê ek moet vir julle sê: Jesus is in ons midde.
Die monnike het verstil en van daardie oomblik af was dinge by die klooster anders. Wanneer hulle saans in die middernagure gebid het en iemand koud gekry het, was daar altyd iemand wat nog ‘n mantel gaan haal het en vir die koulike persoon omgehang het, want miskien, net miskien, was dit Jesus wat koud kry. Wanneer hulle in die groentetuin gewerk het en dit baie warm geword het was daar altyd iemand wat koue water gaan haal het, want dalk, net dalk, was Jesus dors. Dit het hulle lewens radikaal verander.
God is altyd in ons midde
Net soos die kloosterlinge kan dit ons baat om hierdie boodskap baie letterlik op te neem, want Yahweh, Ek Is, God Drie-enig, is aktief, oral en altyd in ons teenwoordigheid. Deur sy Gees is Hy in ons en daarom kan ons nie anders as om mekaar te behandel soos wat ons God behandel nie. Hy is heeltyd in ons midde. Deur Hom lewe ons en deur Hom bring ons ook lewe.
Mag hierdie verhaal jou help om in sy teenwoordigheid, tot eer van sy teenwoordigheid te leef. God is altyd in ons midde, dus geniet jou naastes. Wees lief vir hulle. Bou hulle op. Seën hulle. Wees die bron van lewe wat God jou bedoel het om te wees. Wees vry saam met jou Here. Leef deur die krag van die Heilige Gees en onthou dat Yahweh in jou midde is.
Vir meer inspirasie skakel gerus in vir Vier die Lewe.