God bly getrou saam met Wanda Bam, Melissa Swart en Melinda Bam
Written by Stephanie Conradie on 6 June 2023
Wanda Bam en haar dogters, Melissa Swart en Melinda Bam is vanjaar die sprekers en gaskunstenaars by die Radiokansel Damesoggend op 18 Augustus in Pretoria.
Hulle kom deel hoe God getrou bly in onstuimige tye.
Ons vind onself soms in seisoene waar ons nie kan verstaan hoekom ons is waar ons is nie. Ons vra vrae en word gefrustreerd, hartseer, mismoedig en selfs kwaad, omdat ons ander verwagtinge gehad het. Dikwels word ons so vasgevang in hierdie seisoene se donkerheid dat God ver voel en dat ons verlore raak in die nag van ons emosies.
Elkeen van ons se donkertye lyk anders en is subjektief. Geen mens kan, of mag, hulle laagste punt met iemand anders sin vergelyk nie, want elkeen van ons voel ons eie pyn diep in ons binneste. Die vraag bly dan “Is God getrou?”.
Die eenvoudige antwoord vir ons wat glo is “ja”, maar kan jy dit werklik met oorgawe sê selfs al kan jy nie die lig aan die einde van die tonnel sien nie?
Ons het geleer dat wanneer ons onsself in ‘n onstuimige tyd bevind, waar ons voel dat Vader ver van ons is, is dit nodig om terug te kyk na die tye in ons lewens waar God wel deurgekom het. Om terug te kyk na die oomblikke waar ons die lig gevind het en Vader Sy getrouheid, op Sy tyd, vir ons kom wys het en daardie oomblikke as monumente in ons lewens op te rig.
God het menigmaal in Sy Woord vir mense opdrag gegee om monumente op te rig nadat hulle deur ‘n oomblik van worsteling was, en Hy tot hulle redding gekom het, want Hy weet dat die mens van Sy getrouheid vergeet.
Ons kan hieruit leer. Gaan vind selfs die kleinste oomblikke in jou lewe waar God getrou was, getuig daaroor en rig daardie oomblikke vir jou as monumente van Sy getrouheid en goedheid op, sodat wanneer die vyand jou lig kom steel kan jy terug kyk en met oorgawe proklameer “God is getrou!”.
Ontmoet vir Wanda Bam, Melissa Swart en Melinda Bam by vanjaar se Radiokansel Damesoggend op 18 Augustus
- Plek: Casa Social da Madeira, Pretoria
- Koste: R355 pp, sluit ‘n driegang noen-ontbyt in
- Bespreek jou sitplek by letsie@radiokansel.co.za
Vir bemoediging en inspirasie besoek gerus ons Christelike boodskappe afdeling.