Hoe weet mens wanneer is jy reg vir diens in die Koninkryk?
Written by Stephanie Conradie on 17 December 2022
Hoe weet jy “nou is dit my beurt” en ek is reg vir diens in God se koningkryk? Daai oomblik van “this is it”?
Maar elkeen moet wandel net soos God hom dit toebedeel het, soos die Here elkeen geroep het.
1 Kor 7:17
Die stem van jou roeping
Ek vermoed ons het partykeer ‘n prentjie in ons kop van hoe ons dink ons roeping gaan gebeur en hoe dit gaan lyk. Maar ons vergeet dat ons daaglikse doen en late alreeds stem gee aan diens in die Koninkryk, stem gee aan roeping.
Daai glimlag vir iemand wat jy nie eens geweet het gaan deur ‘n bitter moeilike dag nie. ‘n Vriendelike woordjie of drukkie. Of net ‘n oor vir jou man of vrou se storie oor wat vandag by die werk gebeur het – ja dit kan dalk ‘n verveligestorie wees, maar die feit dat jy luister, en hoor, en ooh en aah, dit maak die verskil. Koninkryks-werk sluit in om naasteliefde te betoon, om om te gee, om Jesus vir iemand te wees vandag.
Roeping is vandag!
Roeping begin met wedergeboorte en nie eendag nie. Roeping is vandag. Die geheim is nie daai eendag wat moet gebeur nie, maar die alledaagse goedjies – dis die nou en hier. Elke dag besig met Koninkryks-dinge. So word ons die mens wat God ons
- geroep het om te wees en
- gemaak het om te wees
Ons hou nooit op met groei en leer nie. Wanneer die een les geleer is, beweeg ons aan na die volgende een. Dis hoe dit is. En so beoefen ons eintlik elke dag reeds ons roeping – al besef ons dit nie. ‘n Kind staan nie stil by een graad wat hy deurgekom het nie, hy beweeg aan na die volgende graad. So is dit met roeping ook – ons bly altyd aan die beweeg.
Our Father refreshes us on the journey with some pleasant inns but will not encourage us to mistake them for home.
C. S. Lewis.
Geniet die lewe. Geniet die groei. Hou aan beweeg want so leef jy jou roeping uit op ‘n daaglikse basis en hoef jy nie te wag vir eendag nie. Die lewe is nie ‘n eind-bestemming nie, maar ‘n reis…
Geskryf deur Sanet Deysel.
Vir daaglikse bemoediging lees gerus Die Woord vir Vandag, of luister na ‘n potgooi op iono.fm.
Die menings wat hierin uitgespreek word, is dié van die aanbieders en nie Radiokansel nie.