Om God te vertrou en oor te gee

Written by on 15 November 2022

Om te vertrou en oor te gee is baie moeilik, want ons wil almal graag agter die stuurwiel sit. Ons voel veiliger as ons in beheer is. Maar wat gebeur as ons uiteindelik al ons vertroue in God plaas?

Ons wil gewoonlik die terme dikteer en besluite neem. Om die stuurwiel te los en iemand toe te laat om die leiding te neem laat ons baie ongemaklik voel. Ons sit paniekbevange aan die kant en probeer deur ons woorde beheer oor die wiel neem.

Tog moedig God ons in Sy Woord aan om op Hom te vertrou. Hy roep ons tot ‘n verhouding van liefde en vertroue. Vertrou op Sy heerskappy; vertrou op Sy leiding; vertrou op Sy tydsberekening. Vertrou op Sy Woord en glo in Sy beloftes. God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie, Hy hou by Sy Woord. Jeremia 1:12 sê:

Die Here het geantwoord: Jy het reg gesien. Ek staan gereed om te doen wat Ek gesê het.

So, as Hy dit gesê het, sal Hy dit doen! Vertrou Hom met jou hele wese en alles wat jy het. Vorige ervarings en mense wie ons vertrou het, en leë beloftes gemaak het, beïnvloed ons vertroue op God negatief.

Wees wys aan wie jy oor gee

Die Woord waarsku ons om nie ons vertroue in ‘n persoon te plaas nie. Dit moedig ons aan om op die Here te vertrou. Om Hom toe te laat om die leiding te neem en ons voetstappe te lei. Psalm 146:3:

Moenie op magtiges vertrou nie, nie op ‘n mens nie; hy kan jou nie red nie.

Iemand het eenmaal gesê, “in die meeste gevalle, wanneer ons deur die lewe se uitdagings gaan, maak God nie sin nie.” Die uitdaging is dat ons probeer sin maak van waarom ons deur moeilike ervarings gaan en wat God tydens daardie moeilike ervarings vir ons sê.

Ek is seker Paulus was vreeslik deurmekaar toe hy die Here gevra het om die doring uit sy vlees te verwyder en God antwoord: “My genade is vir jou genoeg.” God het sekerlik nie op daardie oomblik vir hom sin gemaak nie, want hy het verwag dat God op sy voorwaardes sou reageer.

Spreuke 3:5-6 sê dat ons nooit op ons eie insigte moet steun nie, en ons vertroue  volkome in God moet wees.

Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.

Oor gee en twyfel

Ander vertalings sê dat Hy jou paaie gelyk sal maak. Ja, twyfel sal insluip, maar laat ons eerder soos Gideon in die Bybel wees. Hy het God gevra om ‘n teken te gee wat wys dat dit Hy was wat vir hom ‘n strategie vir die stryd teen die Midianiete gegee het. Om op onsself te vertrou, sal ons net in slote laat val, verkeerde draaie laat maak en tot frustrerende verhoudings lei wat net nog meer verwarring en depressie veroorsaak. Dit veroorsaak alles net meer redes om nie te vertrou nie.

Om volkome op die Here te vertrou bring vrede, vreugde en goeie gesondheid. Jy kan verseker wees dat jy in God se goeie hande is. Los die stuurwiel en laat God jou lei.

Het jy nodig om met iemand te praat oor ‘n teleurstellende vorige ervaring? Kontak ons Omgeesentrum. Vir meer inspirasie, lees gerus Die Woord vir Vandag of luister na ‘n potgooi op iono.fm.

Geskryf deur Sibongile Mofokeng


Current track

Title

Artist

Background