Die Woord vir Vandag
2025-03-23
Aanbidding: gee jouself aan God
Geskryf deur Bob and Debby Gass
Om 'n aanbidder in die volste sin van die woord te word, verg twee dinge. Eerstens, die begrip dat God se liefde vir jou nie van jou liefde vir Hom afhang nie. Die oomblik wanneer jy Christus as jou Verlosser aanneem, aanvaar God jou en klee Hy jou in die geregtigheid van Christus; daarom is jy altyd waardig om tot Hom te nader.
Tweedens, om te verstaan dat God se liefde vir jou nie bloot 'n teologiese konsep is nie, maar iets wat met jou hart omhels word en waarop jou emosies reageer. Wanneer jy aanbid, laat jy jouself gaan en gee jy jouself sonder voorbehoud aan Hom oor. '...omdat die aanbidders, nadat hulle een maal gereinig is, nie meer enige besef van sonde sou hê nie...'
Wanneer jy glo dat die bloed van Jesus jou van alle sonde - verlede, hede en toekoms - gereinig het, word jy 'n aanbidder wat in vervoering oor sy liefde is. Sondige patrone word verander en hardnekkige gewoontes word verbreek, wanneer jy jou oë van jouself afhaal en op Christus fokus. Paulus skryf: '...Nee, laat die Heilige Gees julle lewe vol maak terwyl julle saam psalms en lofgesange en geestelike liedere sing. Sing en jubel met julle hele hart tot eer van die Here' (Efesiërs 5:18-19 NLV).
Die psalmdigter Dawid skryf: 'Smaak en sien dat die Here goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil!' (Psalm 34:9 AFR53). Verbeel jouself dat jy by jou gunsteling maaltyd aansit, dat jy elke happie proe en daaraan smul. So moet jy die liefde van God benader. Die waarheid van God se liefde vir jou moet nie net in jou gedagtes bly nie; dit moet deur jou hart ervaar word. Wanneer dit gebeur, aanbid jy God werklik.
Sielskos: Lev 27:30-33; Num 31:48-54; 1 Kor 16:1-3; 2 Kor 9:1-15
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseën het by gospel@radiokansel.co.za