Die Woord vir Vandag
2019-06-02
Wees kreatief (1)
Geskryf deur Bob and Debby Gass
Hoekom vier ons die geboorte van ons kinders? Omdat ons, soos God, gehelp het om iets te skep. Die beroemde Amerikaanse voetbalafrigter, Vince Lombardi, het gesê: 'Vreugde lê daarin om te skep, nie om te onderhou nie.' Dis 'n fout om te glo dat God net in 'geestelike' dinge en nie in 'sekulêre' dinge geïnteresseerd is nie. Ja, jy moet geestelik groei. Jy moet egter ook die gawes wat Hy vir jou gegee het gebruik om sy doel hier op aarde te vervul en ander mense mee te seën. Jy hoef nie ryk te wees of 'n hoë IK te hê om kreatief te wees nie. Jy kan 'n kreatiewe haarkapper wees, of 'n nuwe resep uitdink, of 'n werksgeleentheid vir gevangenes skep waarmee hulle hul lewens kan herbou. Dis nie net sekulêr nie, dis geestelik! Jy sal oplet dat die kruis twee pale het: vertikaal en horisontaal. Die vertikale paal verteenwoordig jou verhouding met God; wat Hy vir jou wil doen en wat Hy wil hê jy vir Hom moet doen. Die horisontale paal verteenwoordig dit wat Hy ons geroep het om vir mekaar te doen. Jy sê: 'Maar ek is nie baie kreatief nie.' Sodra jy jou Godgegewe gawe ontdek het, sal dit jou kreatiwiteit vrystel. Paulus skryf: 'Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik...' (Romeine 12:6 NLV). Hou op om jouself sleg te sê omdat jy nie so kreatief is soos jy graag wil wees nie. Kreatiewe denke is nie noodwendig oorspronklike denke nie. Gewoonlik is kreatiewe denke 'n samestelling van ander mense se denke wat langs die pad ontdek is. Die woord vir jou vandag is dus: Wees kreatief.
Sielskos: Eks 20:16; Deut 19:15-20; Op 21:8
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseën het by gospel@radiokansel.co.za