Die Woord vir Vandag
2025-03-29
Soek God
Geskryf deur Bob and Debby Gass
God gee ons opdrag om Hom te soek, maar dis nie asof Hy vir ons wegkruip nie. Wanneer ons God soek, maak ons 'n besluit wat nodig is om ons in die geestelike ryk te bring. Sommige vlakke van seën word nooit ontvang tensy daar ywerig na hulle gesoek word nie. Dis jou soeke na God wat Hom beweeg om te reageer. 'As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon' (Hebreërs 11:6 NLV).
Daar is geen handleiding wat ons stap vir stap vertel wat die regte manier is om die Here te soek nie. Sommige mense soek Hom stilweg, met trane wat oor 'n moeë gesig loop. Ander soek Hom terwyl hulle op die strand stap en na die golwende gety staar. Sommige mense hef hulle hande op en loof Hom met liefdevolle uitdrukkings van aanbidding. Daar is nie reëls nie, jy moet Hom net met jou hele hart soek.
Wat beteken dit om God heelhartig te soek? Dit beteken dat jy Hom jou volle aandag gee deur afleidings uit die weg te ruim, sodat jy op Hom kan fokus. Verbeel jouself jy laat val 'n kontaklens of 'n kosbare steen uit 'n ring en sê: 'Ag, ek sal dit later soek.' Nee, die waarde wat jy op iets plaas bepaal die intensiteit waarmee jy daarna soek. Wanneer jy bid: 'Here, ek het U nodig; ek gaan dit nie sonder U maak nie,' bid jy heelhartig. God beantwoord sulke gebede: 'As julle met alles in julle na My soek, sal julle by My uitkom...' (Jeremia 29:13 DB).
Sielskos: Lev 5-7; Luk 20:27-33; Ps 72:1-11; Spr 9:1-6
Skakels na Bybelverse: Holy Bible
Eerste Rekord | Vorige Rekord | Volgende Rekord | Laaste Rekord
Laat weet ons asb gerus indien hierdie Woord jou geseën het by gospel@radiokansel.co.za