Aan wie se verwagtinge wil jy voldoen?
Written by Stephanie Conradie on 29 May 2023
Ek was nog nooit iemand wat probeer het om aan ander se verwagtinge te voldoen nie, maar ek het hierdie drie vrae wat nou al ‘n rukkie swaar op my hart lê:
- Wat sien mense as hulle na my kyk?
- Wat sien mense wanneer hulle my vir die eerste keer ontmoet?
- Wat sien mense, wat my my hele lewe lank ken, wanneer ons ontmoet?
Ek vind dat ek hierdie vrae oor en oor vra. Ek kon nie verstaan hoekom ek bekommerd was oor wat ander mense van my dink, of in my sien nie, dit is tog nie die mens wie ek is nie. Maar toe besef ek dat ek nie probeer om ander mense tevrede te stel nie, ek probeer aan God se verwagtinge voldoen.
Ek wil hê mense moet Christus in my sien, ek wil leef volgens die Vrug van die Gees, die nege eienskappe wat ‘n Christelike lewe in Galasiërs 5:22-23 opsom.
Maar die vrug van die Gees is liefde, vreugde, vrede, verdraagsaamheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar geen wet nie.
Galasiërs 5:22-23
Toe begin ek myself afvra of hierdie eienskappe werklik in my lewe sigbaar is, of dalk is dit iets waaraan ek moet werk.
Ruimte vir verbetering
Ek glo beslis dat niemand (insluitend ek) ooit hierdie eienskappe 100% uitleef nie, ek glo daar is altyd ruimte vir verbetering. Maar ek glo ook dat ons ons bes moet probeer om liefde, vreugde, vrede, verdraagsaamheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing iewers deur ons dag aan iemand te wys. Wees die beste weergawe van jouself!
Daar is ‘n verskil tussen sê dat jy ‘n Christen is en om werklik ‘n Christen te wees. Dink net hoeveel beter hierdie land (en die wêreld) sou wees as almal wat sê hulle is Christene eintlik soos Christene sou leef.
Ongelukkig is dit so maklik om in die ‘wêreldse manier van lewe’ te val. Versoekings is oral, maar weet jy dat selfs Jesus in Lukas hoofstuk 4 voor versoekings te staan gekom het? As ons sterk in ons geloof staan en weet watter groot planne God vir ons het, is ons in staat om enige versoeking te weerstaan.
Dit is iets waaroor jy moontlik met God kan praat, bid en vra Hom om jou oë vir die wêreldse versoekings oop te maak. Dat jy vir jou die kennis en krag sal gee om watter versoeking jy ook al in die gesig staar, te weerstaan. Vra Hom om jou te help om nie aan die verkeerde verwagtinge te voldoen nie, maar om SLEGS aan Sy verwagting te voldoen.
Mag jy ‘n boom wees wat vrug dra. Mag jy die vrug van die Gees deel waar jy ook al gaan. En mag jy krag en wysheid vind om versoekings teen te staan en nie net te sê jy is ‘n Christen nie, maar eintlik ‘n Christen WEES
Deur Stephanie Conradie
Vir daaglikse bemoediging lees gerus Die Woord vir Vandag, of luister na ‘n potgooi op iono.fm.
Die menings wat hierin uitgespreek word, is dié van die aanbieders en nie Radiokansel nie.