Die wapen van danksegging

Written by on 9 January 2023

Baie maal mis ons geleenthede vir danksegging omdat die lewe so ‘n gejaag is en ons onself op ‘n wipplankrit van die lewe bevind. Ons konsentreer so op die probleme en uitdagings wat voor ons staan, waar ons eintlik op die EEN moet fokus wat magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink.

Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink

Efesiërs 3:20

Daar is niks wat Hy nie kan doen nie, Hy verdien ons danksegging. Ons het gesien hoe ander ons verlaat, hoe dinge verander, maar ons Here Jesus het ons bewaar. Daar is soveel getuienisse van mense wat deur diep waters gegaan het as gevolg van siekte, maar God het vir hulle deurgekom. Hy voorsien in ons behoeftes, Hy beskerm ons, Hy plaas ons op hoë plekke, Hy pleit vir ons. Waarlik, lof en danksegging behoort aan Hom.

In Lukas 17 lees ons die verhaal van die tien melaatses. Jesus sê vir hulle om hulself aan die priesters te gaan wys, op pad daarheen het hulle gesond geword. Maar net een het teruggekeer om dankie te sê en die Bybel sê dat sy geloof hom gered het.

Jesus self leer ons ook om in afwagting dankie te sê. Hy het Sy gebed met danksegging begin voordat Hy Lasarus wakker gemaak het (Johannes 11:41); Hy het met danksegging gebid voordat Hy twee visse en vyf brode vermeerder het en toe ‘n menigte daarmee gevoed het (Lukas 9). Nog baie wonderwerke het verder gebeur.

Danksegging wen die stryd

Die Bybel verduidelik dat die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig (2 Korintiërs 10:4). ‘n Lewe van dankbaarheid, danksegging, is ‘n manier om ons wapens te gebruik.

Toe die volk van Juda deur die mense van Ammon en Moab en die Seïrberge bedryg is het hulle begin sing: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie.”

Dan lees ons:

Juis toe, toe die sangers met die lofprysing en gebed begin, het die Here onverwagte aanvalle bewerk op die Ammoniete, die Moabiete en die mense van die Seïrberge wat teen Juda opgetrek het, en hulle het die een neerlaag na die ander gely. Toe val die Ammoniete en die Moabiete die inwoners van die Seïrberge aan en spaar niemand nie en roei hulle uit. En toe hulle klaar was met die inwoners van Seïr, het hulle mekaar begin uitdelg.

2 Kronieke 20:22

Tydens die laaste Radiokansel Dameskamp is ons aangemoedig om daagliks dankie te sê. Net dankie te sê en vir niks te vra nie. Die spreker het gedeel oor hoe dinge waarvoor haar gesin vir meer as 20 jaar gebid het, vinnig verander het deur danksegging.

Om dankie te sê, verander jou. Dit verander jou hart en leer jou om selfs klein dingetjies wat God, en ander, in jou lewe doen lief te hê en te waardeer. Dit verwyder die swaarmoedigheid waarin ons soms verdwaal. Die vyand raak skoon deurmekaar wanneer ons nie kla nie, maar eerder in alle situasies, goed of sleg, dankbaar is.

Kies danksegging in hierdie seisoen. Tel jou seëninge een vir een. Jy het daaroor gebid, God het gehoor en Hy het geantwoord. Hou aan om Hom te dank en mag jy sien hoe jou situasie omdraai. Eindig 2022 met ‘n dankbare hart en begin 2023 met ‘n nuwe jy.

Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Filippense 4:4-7

Geskryf deur Sibongile Mofokeng.

Vir daaglikse bemoediging lees gerus Die Woord vir Vandag, of luister na ‘n potgooi op iono.fm.

Die menings wat hierin uitgespreek word, is dié van die aanbieders en nie Radiokansel nie.


Current track

Title

Artist

Background