Jou voorkeur Christen radiostasie
Radiokansel is ‘n gevestigde, betroubare, relevante media-stem en voorkeur Christen radiostasie en vennoot in Suid-Afrika en verder. Met meer as vier dekades se uitsaai-ervaring, is hierdie vertroude handelsmerk ‘n welkome stem in huishoudings en besighede regoor die land.
Ons bring vir jou die Woord van God en perspektief en insig in alle aspekte van die lewe. Radiokansel verskaf al die inspirasie wat jy nodig het om deur die dag te kom. Ons programme help om gesinswaardes te herstel, die leiers van more toe te rus en ‘n morele nasie te bou. Ons bespreek huidige en relevante kwessies vanuit ‘n Bybelse perspektief.
Radiokansel is ook jou daaglikse reisgenoot vir nuus, musiek, leefstyl en sake, gebaseer op die Woord van God. Ons programme bied advies van kundiges om luisteraars op hul lewensreis te begelei. Saam met Radio Kaapse Kansel 729AM, en die I Am Youth Movement, vorm ons deel van die Kansel Media Groep. Radiokansel se eerste uitsending het op 4 Augustus 1981 plaasgevind. Ons het ook onlangs die Radiokansel aanlyn besigheidsgids bekendgestel.
Christen radio stasie
Skakel in op Radiokansel, jou daaglikse reisgenoot, op die radiofrekwensie 657AM. Jy kan ook ons gratis slimfoon toepassing vir iPhone en Android aflaai. Soek ons op DStv Audio-kanaal 882 en Open View-kanaal 607. Jy kan ook regstreeks via ons webtuiste luister. Ons Engelsprekende luisteraars kan in skakel op Radio Pulpit. Laastens, kan jy via ons Facebook-blad inskakel om regstreeks na gewilde programme soos “Table Talk” met Mark Penrith, elke Vrydagoggend van 9 – 11, te luister.
Vind ons op sosiale media
Ons luisteraars hou daarvan om met aanbieders via ons sosiale media-platforms op Facebook, Twitter en Instagram te gesels. Programme soos Goeie Nuus Tyd kommunikeer gereeld met luisteraars via Facebook oor onderwerpe, van gebedsversoeke tot voltooi die sin en scenario van die dag. Een van die hoogtepunte is wanneer ons luisteraars met die aanbieders oor Die Woord vir Vandag gesels. Saam is die aanbieder en gehoor betrokke by betekenisvolle gesprekke wat lewens verryk, ons begrip van God verdiep en ons nader aan mekaar, as Christus se familie, bring.
Radiokansel kernwaardes
- Integriteit: Die uitvoering van alle take in ‘n gees van eerlikheid, wedersydse respek, vertroue en deursigtigheid.
- Uitnemendheid: ‘n Verbintenis tot uitnemendheid van al ons produkte en hoë-kwaliteit diens.
- Spanwerk: Aanvaarding en begrip van die feit dat bydrae tot spandoelwitte belangriker is as om eie belange na te streef.
- Verantwoordbaarheid: Die erkenning en bereidwilligheid om verantwoordelikheid te neem vir ‘n mens se optrede, gedrag en besluite.
- Toewyding: Bevestiging, lojaliteit en toewyding aan die missie en visie van die Organisasie.
Verklaring van geloof
Radiokansel is deel van die Kansel Media Groep en onderskryf die volgende verklaring van Geloof en verbind hom daaraan vir alle uitsendings:
Ons glo:
- in God Drie-enig, een Wese, maar drie Persone, Vader, Seun en Heilige Gees.
- dat God, die Vader, die Skepper en Onderhouer van die heelal is.
- Jesus Christus is die Seun van God, dat Hy gebore is uit die maagd Maria, gely het, gesterf het, liggaamlik uit die dood opgewek is, opgevaar het na die Hemel en tans aan die regterhand van God sit vanwaar Hy weer sal kom.
- dat die Heilige Gees as Persoon deur Sy inwoning in ons harte, ons Heiligmaker, Vertrooster en Voorspraak is.
- die Bybel is die geïnspireerde Woord van God is.
- dat die mens van nature sondig is en sonder die wedergeboorte en bekering God nie sal sien nie.
- God bewerk die wedergeboorte deur Sy Woord en Gees en so vir Hom ‘n kerk op aarde versamel om Hom te dien en te eer. Die middel waardeur ons dit wat God aan ons skenk vir onsself toe-eien, is geloof in Jesus Christus as Saligmaker en Verlosser. Selfs die geloof is ‘n gawe uit Sy hand.
- dat God ons as Sy kinders geroep het om die Evangelie aan die ganse wêreld te verkondig.
- dat God aan dié wat in Jesus Christus glo, die ewige lewe skenk.
Kansel Media Groep
Radiokansel is ‘n onafhanklike, trans-kulturele en trans-denominale Christen radiostasie. ‘n Lid van die Kansel Media Groep (KMG). Ons visie is om die teenwoordigheid van God in elke tuiste in SA, en verder, te herstel.
Ons Goddelike opdrag is om die Evangelie deur die produksie en uitsending van radioprogramme te verkondig. Dit word deur ander sosiale en elektroniese media, publikasies en inisiatiewe ondersteun. Ons fokus is om ‘n ‘daaglikse reisgenoot’ vir gelowiges op hul geloofsreis te wees. Ons beoog ook om ongelowiges vir Christus te wen.
KMG lede sluit is:
- Radiokansel 657AM
- Radio Kaapse Kansel 729AM
- United Christian Broadcasters Africa (UCB Africa)
- CNW Media; en
- I AM web radio and movement
Uitsaaibeleid
Doel
Om die Evangelie van Jesus Christus te verkondig tot eer van God, om gelowiges in hulle geloof op te bou en om mense te lei tot geloof in Christus.
Grondslag
Die enigste grondslag is die Bybel. Stellings wat gegrond is op openbaringe, drome, verskynings, gesigte en visioene word vermy.
Uitgangspunt
Die volle raadsplan van God moet verkondig word, en die klem moet geplaas word op die oorwinning wat Jesus Christus deur sy kruisdood en opstanding bewerkstellig het, Sy hemelvaart en wederkoms.
On-Bybelse Standpunte
Indien on-Bybelse standpunte gestel sou word, moet die algemene gees en strekking van die program die lig van die Woord só daarop laat val dat die Bybelse standpunt by die luisteraars inslag vind.
Kerke
Radiokansel bied nie aan kerke as sodanig uitsaaigeleenthede nie, maar nooi radiomatige indiwidue uit verskillende kerke om programme aan te bied en in programme op te tree. Geen proselietmakery word toegelaat nie. Alle aanbieders moet die Verklaring van Geloof van Radiokansel onderskryf.
Luisteraars
Die inhoud van die programme moet rekening hou met die luisteraarsverskeidenheid.
Fondse
Fondse mag slegs vir Radiokansel in uitsendings gevra word en nie vir enige ander instansies nie.
Ander Godsdienste
Ons erken dat Suid Afrika ‘n multi-godsdienstige land is, waar vryheid van aanbidding as ‘n grondwetlike reg gewaarborg word. Alhoewel ons die reg van ander godsdiensgroepe respekteer om hulle oortuigings te propageer, verkondig ons met oortuiging die ewige, onveranderlike waarheid van die evangelie soos dit in die Skrif weergegee word.
Afbrekende kritiek teen ander godsdienste word nie toegelaat nie.
Kontroversiële Sake, Persone & Aksies
Wanneer dogmatiese strydpunte gehanteer word, word dit onder leiding van die Besturende Direkteur gedoen. Kleiner sake waaroor Christene met mekaar verskil, moet versigtig gehanteer word. Alhoewel Radiokansel relevant wil wees, word die propagering van partypolitieke standpunte nie toegelaat nie.
Musiek
Die musiek wat gespeel word, kan uit verskillende style en aanbiedingswyses bestaan. Twee absolute vereistes word egter aan vokale musiek gestel:
- Die inhoud moet Skriftuurlik wees.
- Die woorde moet duidelik hoorbaar wees.
Reg Voorbehou
Radiokansel behou hom die reg voor om alle programme na goeddunke te keur en te redigeer volgens sy beleid en Verklaring van Geloof. Die Besturende Direkteur besluit finaal daaroor.
Affiliasies