Die krag van sagmoedigheid, nederigheid en ootmoedigheid

Written by on 4 July 2023

In die Bybel is daar verskeie verse wat die belangrikheid van sagmoedigheid, nederigheid en ootmoedigheid beklemtoon. Hierdie deugde roep ons op om ‘n vriendelike, vredeliewende en respekvolle houding teenoor ander mense te handhaaf, terwyl ons self nederig en leerbaar bly.

Hierdie beginsels is van onskatbare waarde en bring vrede, vreugde en die guns van God. In hierdie skrywe kyk ons na drie spesifieke gedeeltes uit die Bybel wat hierdie waarhede illustreer.

Uit die Woord

Gelukkig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde erf.

Mattheus 5:5

Hierdie vers herinner ons daaraan dat sagmoedigheid die pad na erfenis lei. Dit vra dat ons nie hoogmoedig, beterweteterig of weerbarstig moet wees nie. Ons moet eerder bereid wees om te leer en ‘n vriendelike gesindheid teenoor ander te handhaaf. Die sagmoediges sal die vrede en rykdom van die aarde ervaar.

In Mattheus 11:29-30 sê Jesus:

Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart en julle sal rus vind vir julle siele, want My juk is sag en My las is lig.

Hier verwys Jesus na die juk wat deur leermeesters van daardie tyd op hulle volgelinge geplaas is. Sommige van hierdie jukke was swaar en moeilik om te dra, wat uitputting en oorweldiging veroorsaak het. Maar Jesus bied ‘n alternatief aan. Hy nooi ons om Sy sagmoedige en nederige juk op ons te neem, wat liggies en draaglik is. Deur Hom te volg, sal ons rustigheid vind vir ons siele. Hy is nie ‘n boelie of ‘n hardvogtige leermeester nie, maar Hy lok ons nader met sagtheid en ware vrede.

Psalm 37:11 sê:

Maar die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.

Hier word die ootmoediges voorgestel as diegene wat die aarde sal besit en groot vreugde sal ervaar. Dit herinner ons daaraan dat die sleutel tot ware vreugde en vrede nie lê in beterwetendheid, hoogmoedigheid of selfverheffing nie, maar eerder in sagmoedigheid en ootmoedigheid. Dit is diegene wat stil en nederig is, wat die ware rykdom van die aarde sal ontdek en innerlike vrede sal beleef.

Die boodskap van hierdie verse word versterk deur 1 Petrus 3:3-4:

Julle versiering moet nie uiterlik wees nie, haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees wat baie kosbaar is voor God.

Hier word ons herinner dat ware wysheid en versiering nie gevind word in uiterlike pralerigheid of materiële goed nie, maar in die innerlike mens van die hart. Dit is die sagmoedige en stille gees wat waarlik kosbaar is voor God.

Vanuit die program “Delf steeds dieper” saam met Este Geldenhuys, luister gerus na die potgooie op iono.fm. Vir daaglikse bemoediging lees gerus Die Woord vir Vandag.

Die menings wat hierin uitgespreek word, is dié van die aanbieders en nie Radiokansel nie.


Current track

Title

Artist

Background