Goliat koggel ons nogsteeds!

Written by on 24 June 2021

Ek het al die storie van Dawid en Goliat ontelbare kere gehoor, maar die naweek het ek goed raakgehoor wat ek nog nooit voorheen verstaan het nie en wat my laat besef dat Goliat nogsteeds ons koggel.

Toe Saul en die hele Israel hoor wat die Filistyn sê, het hulle geskrik en baie bang geword.

1 Samuel 17:11

Het jy geweet?

  • Goliat het 80 keer voor die weermag gaan staan en koggel.
  • Hy het dit 40 dae lank, twee keer per dag gedoen. (1 Sam 17:16)
  • Dit was Koning Saul se plig om teen die Fillistyne se kampioen te veg, maar hy kon nie want hy was vreesbevange.
  • Omdat koning Saul vreesbevange was, was die hele weermag ook.

Lamgelê of aangespoor?

So, as die leier bang is vir satan, dan is almal wat hom volg ook lamgelê.
En as die weermag bang is, doen hulle NIKS nie. Vir 40 dae lank is hulle gekoggel, en hulle het absoluut NIKS gedoen nie.

Toe kom Dawid, die tiener, daar aan. Hy hoor die arrogansie net een keer en sy hare staan regop.

Wie is hierdie heiden, hierdie Filistyn, nogal dat hy die linies van die lewende God verkleineer?

1 Samuel 17:26b

En jy ken die res van die storie.

So… kerkleier, jou openbaring van die Here beïnvloed jou geloof, maar dit stop nie daar nie. Jou gebrek aan geloof hou ‘n hele weermag onder jou se arms slap!

Tweedens, ‘n weermag (Sy kerk), wat nie weet wie Hulle God is nie, gaan bedreig voel deur iemand met ‘n groot mond wat oortuigend gevaarlik lyk. G’n wonder die kerk is deesdae so bang vir satan nie. Ons onderskat ons God totaal en al, want ons ken Hom nie!

En derdens, Dawid was nie deel van daardie “weermag” nie. Sy broers het hom selfs probeer stilmaak en hom gespot. Hulle wat veronderstel was om God se weermag te wees!

Soek God en tree op

Maar Dawid was daar met ‘n openbaring van die Here, opgedoen deur persoonlike ervaring uit vorige gevegte wat Hy saam met God gewen het, en daarom onbesmet was deur Saul en die ander se vrees en onkunde! Net vir die rekord: Toe Dawid met sy geloof daardie selfde weermag lei, was hulle onstuitbaar.

Kerk, ons praat mekaar bang! Ons spreek ongeloof, kragteloosheid en vrees vir wat satan volgende aan ons gaan doen; dit ontwapen ons en dan kan ons nie die sout van die aarde wees nie.

Dis tyd dat ons weer ons Here in perspektief kry. Sy stem en aangesig soek. Sy Woord verorber… en ons kerkleiers eerste!

Geskryf deur Janine van Niekerk, mede-aanbieder van Goeie Nuus Tyd. Besoek gerus die Radiokansel potgooi afdeling op iono.fm.

Tagged as

Current track

Title

Artist

Background