Die Bron van Lewe

Written by on 23 August 2020

Wat beteken dit vir jou dat God die Bron van Lewe is?

Dit is die dag wat die Here gemaak het en Hy het net die beste vir jou in gedagte. Fokus vandag jou oë op die waarheid wat Hy in jou lewe is.

Miskien voel jy vandag soos Moses toe God hom diep in die woestyn in die versengende hitte by ‘n brandende doringbos ontmoet het. Jy smag na ‘n koelteboom of ‘n stukkie groen gras om op te sit. Is moeg, gekwes, kwaad en seer.

Die Ewige “Ek Is”

Miskien wil God juis vandag met jou uit hierdie plek van dorings praat. Hy identifiseer met jou pyn. God beloof in Psalm 138 vers 6 dat Hy sy kind uit nood sal red. Hy het die Israeliete uit die woestyn van slawerny gered. Jy moet nie dink dat God deur jou omstandighede beperk word nie. Uit die brandende doringbos het God Homself fisies en tasbaar sigbaar gemaak deur te praat, maar ook te luister, deur instruksies te gee oor wat volgende gedoen moet word en deur te sê waarheen nou. Hy is steeds Yahweh, die ewige Ek Is. Hy is in jou midde en Hy gee jou ook instruksies oor waarheen jy moet gaan.

Die Bron van Lewe

In Christus het God nog verder gegaan – Hy het Homself in ons plek gestel. Deur ‘n doringkroon en ‘n houtkruis het Jesus God as Redder en Verlosser bekend gemaak. Hy wil ons elke dag, heeldag verlos en ons uit ons menslike onvermoë verlos. God wil ons uit vandag se ellende verlos. Hy wil vandag se ellende omdraai in môre se troos, want sy Woorde oor jou is gevul met liefde. Ontvang dit. Hy het ‘n verwagting vir jou lewe. Lig jou oë op want Hy wil hê dat jy ver en wyd moet kyk. Hy wil vir jou wys wat Hy sien. Laat God toe om die Bron van lewe vir jou te wees.

Vir bemoediging skakel gerus in vir Inspirasie saam met Lynette Beer en kry jou gratis Die Woord Vir Vandag dagstukkie.


Current track

Title

Artist

Background