Wen is nie alles nie

Written by on 8 February 2023

Balans is so belangrik, ons moet seker maak dat ons nie só ingesteld is om te wen, dat ons lewensmoeg is voordat ons die wedloop voltooi het nie.

Die skole het weer heropen en atletiek byeenkomste is aan die orde van die dag. Ons was onlangs by ‘n byeenkoms waar my twee van ons voorskoolse kleinkinders “meegeding” het. Dit was ‘n heerlike sonskyndag en polsende musiek wat luidrugtig oor die klamksisteem gespeel het, het bygedra om die geleentheid ‘n feestelike atmosfeer te gee.

Entoesiastiese ouers, grootouers, vriende en familie soek op die pawiljoen skuiling teen die warm son. Aan die een kant word die kleintjies met ‘n “op julle merke”, en wat daarop volg, aan die hardloop gesit. Aan die anderkant staan ‘n mamma of pappa in die betrokke baan waar die resies eindig, gereed om hul trots te omhels. Die geleentheid is goed georganiseer en alle verloop seepglad, ‘n pluimpie vir die skool.

Ongeag hoe die kleintjies presteer, vir die ouers en grootouers is hulle kinders die mooiste goed op aarde en dit hoort so. Elke deelnemer kry ‘n medalje wat trots om die nek gehang word. Elkeen ontvang ‘n sertifikaat van deelname met die woorde – “jy is ‘n wenner daarop”. Dit maak hierdie oupa se hart vuurwarm van die trots.

Elke deelnemer het ‘n belangrike rol

Atletiese vermoë lê nie sterk in ons DNA nie. Dat ons junior nasate dus nie die eerste plekke beklee nie, is heeltemal te verstane. Hul talente lê op ‘n ander vlak en op die regte tyd sal dit na vore tree.

Die lewe is erg kompeterend. Selfs kinders word aan die prestasie en sukses sug blootgestel. Skole probeer hard om ‘n eie plekkie in die son te kry, derhalwe is hulle op die uitkyk vir besonder begaafde kinders. Dit insigself is nie verkeerd nie.

Skole wat op sekere terreine uitmunt is aantreklik en nodig. Tog is dit so belangrik om omvattend sensitief te wees en alle kinders spesiaal en ingesluit te laat voel.

Deelname is belangrik, en laaste is ook ‘n plek. Op ‘n vreemde manier is alle deelnemers nodig om ten einde die wenner sy gesogde plek te besorg. Sonder ander deelnemers is daar nie wenners nie. Tog gebeur dit dat die wenner al die erkenning kry terwyl die ander deelnemers die gevaar loop om minderwaardig en verneder te voel.

Deelname in die Bybel

Die Bybel praat ook van deelname. Jou ingesteldheid met ‘n resies moet wees om uitnemend te presteer.

Weet julle nie dat atlete wat aan ‘n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen

1 Kor 9:24

Tog vind ek nie die druk, wat eie geword het aan ons tyd, in die Bybel nie.

Verstaan mooi, my bedoeling is hoegenaamd nie om die belangrikheid van uitnemendheid te onderspeel nie. Sou jy die potensiaal hê om te wen moet jy alles in die stryd werp om dit te behaal. Lyf wegsteek word nooit in die Bybel aangeprys nie. Inteendeel, die miere se harde werk word aan ons as navolgenswaardige model voorgehou (Spreuke 6:6).

‘n Prestasie behepte samelewing

Balans is seker die sleutelwoord. Ouers en onderwysers het ‘n uitsonderlike verantwoordelikheid om nie die gees en moed van jong spanlede te ondergrawe nie. Elke opregte poging moet aangeprys word. Die Bybel praat nie verniet van volhard nie (Heb 12:1). Menige sportster het deur harde oefening en toewyding die hoogste sport bereik.

Talente lê eweneens op verskillende terriene. Ons moet sensitief wees om ons kinders te begelei om hul beste self te wees. Enige iets anders is ‘n onreg. Ek luister na ‘n advertensie op die radio. ‘n Substans word adverteer om spanningsvlakke aan te spreek. Alhoewel dit ‘n oor-die-toonbank medikasie is, en nie chemiese bestanddele bevat nie (alles sg. natuurlik), ontstel die advertensie my.

Dit is vir leerders en ouers wat die druk van ‘n prestasie behepte samelewing ervaar. Uitermate besig wees, veral wanneer leerders die vermoë het, het die norm geword. Speel kinders nog? Ek is nie so seker dat dit God se bedoeling was met ons nie.

Die gevaar is groot dat ons kinders lewensmoeg mag wees teen die tyd dat hulle skool verlaat. Balans is seker ook hier n sleutelkwoord. Mag ons ons kinders met verantwoordelikheid en sensitiwiteit die toekoms in lei.

Geskryf deur Jannie Pelser, luister gerus na sy programme, Naweek Aktueel en Perspektief. Vir daaglikse bemoediging lees gerus Die Woord vir Vandag.


Lees verder

Current track

Title

Artist

Background