Is ek goed genoeg?

Written by on 15 February 2023

Meeste mense sukkel op een of ander stadium met die vraag: is ek goed genoeg? Die wêreld het ‘n skewe prentjie vir die samelewing kom skets oor “goed genoeg”. Jy moet ‘n spesifieke tipe werks-posisie beklee, dan is jy goed genoeg. As jy ‘n duur motor bestuur is jy goed genoeg. Wanneer jou man of vrou status geniet, dan is jy goed genoeg. As jy in die regte buurt woon is jy goed genoeg. As jou kinders presteer op skool, dan is jy en hulle goed genoeg. 

Goed genoeg is nie ‘n ‘outside‘ ding nie. Dis ‘n ‘inside‘ ding. Dis ‘n innerlike wete dat jy goed genoeg is, net daar waar jy jouself bevind. Maak nie saak watse werk jy doen nie, maak nie saak watse motor jy bestuur nie, maak nie saak waar jy bly nie. Jy is goed genoeg. Punt.

Innerlike vrede

Geen werks-posisie, uiterlike sukses, finansieële sukses, ‘n gelukkige huwelik of kinders wat presteer gaan vir jou innerlike blywende vrede en ‘n gevoel van “genoeg” bring nie. Want dit lê nie in uiterlike dinge nie. Dit lê binne in ons.

‘n Mens kan al die geld en sukses in die wêreld besit, maar niks daarvan gee vir jou innerlike vrede nie. ‘n Gesonde selfbeeld word nie gebou op uiterlike sukses nie. En tog sien mens daagliks dat sommige se geld en sukses reguit kop toe gegaan het. My vraag met dit is net: sou jy die geld en die sukses verloor (wat moontlik is!) wie is jy dan? Wie is jy dan?

Niks fout met sukses nie, maar ons kan nie ons identiteit en ons innerlike wete dat ek goed genoeg is, bou op uiterlike sukses nie. Want als wat buite ons lê, kan ons verloor. Maar dit wat binne in ons is, kan ons nie verloor nie, dit kan nie gesteel word nie.

Ek en jy is goed genoeg. Net soos ons is. Want God sê so!

Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke!

Ps 139:14

Verander jou denkwyse

Die probleem met ‘n denkwyse dat jy nie goed genoeg is nie, veroorsaak ook dat jy naderhand als om jou sien as nie goed genoeg nie. Daar is niks fout met jou huwelik nie, maar dit is net eenvoudig nie goed genoeg nie. Jy het ‘n werk wat ander mense na smag, maar dit is nie goed genoeg nie. Jou kinders doen goed en is gelukkig op skool, maar jy dwing hul om meer te presteer. As mens innerlik nie goed genoeg voel  nie, beinvloed dit als om jou ook. Hoe jy jou verhoudings hanteer, hoe jy jou kinders grootmaak ens. Want dit wat mens glo, word jou gedagtes. Jou gedagtes bepaal jou emosies en jou emosies bepaal jou gedrag. So dit begin met wat jy glo.

Daar is net 2 teenmiddels rondom hierdie “nie goed genoeg” denkwyse:

  1. Fokus op Ps 139:14
  2. Om die “nie goed genoeg” speletjie te wen, moet jy bloot net eenvoudig nie deelneem nie.

Nog voor jy ‘n enige sukses behaal het of dalk ‘n mislukking van jou lewe gemaak het, het God reeds gesê dat jy goed genoeg is. Nog voor jy gebore was, het God reeds verklaar dat jy goed genoeg is.  

Jy is goed genoeg – net soos jy is. Glo dit! Leef dit!

Geskryf deur Sanet Deysel.Vir daaglikse bemoediging lees gerus Die Woord vir Vandag, of luister na ‘n potgooi op iono.fm.Die menings wat hierin uitgespreek word, is dié van die aanbieders en nie Radiokansel nie.


Current track

Title

Artist

Background