Aan ons kollega en vriend – Sipho Kaleni

Written by on 4 September 2022

21 Sept 1975 – 1 Aug 2022

Dit is met groot hartseer dat ons verneem van die afsterwe van ons kollega Sipho Kaleni, na ‘n stryd teen diabetes en septisemie. Hy was vir meer as twee dekades ‘n omroeper by Radiokansel.

Sipho het bekend gestaan as ‘n ‘gentle giant‘ in die radio- en musiekbedryf. Soortgelyk aan die betekenis van sy naam – gawe van God – het hy duisende Radiokansel-luisteraars beïnvloed. Sipho het in die proses industrie-erkenning vir sy werk ontvang deur vir verskeie radio-toekennings genomineer te word. In 2015 het hy die 2015 MTN-toekennings gewen vir Beste nagprogram.

Hy het ook as TV-aanbieder, draaiboekskrywer en vervaardiger vir programme soos Real Vision, Gospel Gold en Khwezela saam met Zanele Mbokazi gedien.

Sipho, wat in sy eie woorde ‘n ‘music minister’ was, het verskeie kere die SABC Crown Gospel Music Awards aangebied. Hy het ‘n ryk musikale agtergrond as liedjieskrywer, verwerker, komponis en opnamekunstenaar gehad. Hy het liedjies vir kunstenaars soos Lebo Sekgobela, Tebelo Sukwini, Priscilla Mahamba, Zanele Mbokazi se TV-programme, en Isambulo TV geskryf, om maar ‘n paar te noem.

Sy missie is voltooi

Dit was Sipho se enigste missie om lewens tot God se eer te beïnvloed. Ons het dit eerstehands by Radiokansel ervaar. As ons kyk na die boodskappe wat van kollegas en luisteraars instroom, weet ons dat Sipho sy missie suksesvol voltooi het.

Dit maak ons harte bly wanneer ons hoor dat luisteraars en kollegas kosbare oomblikke onthou. Hy sal baie in die gospelbedryf gemis word.

Sipho laat sy vrou, Brenda, en drie kinders agter, vir wie hy baie lief was.


Current track

Title

Artist

Background