Menu

Radiokansel

Tuis

Radiokansel Facebook Radiokansel Twitter

A+ A A-

Sielskos

Die Here is die bron van Lewe

Dit is die dag wat die Here gemaak het en Hy het net die beste vir jou in gedagte. Fokus vandag jou oë op die waarheid wat Hy in jou lewe is.

Miskien voel jy vandag soos Moses toe God hom diep in die woestyn in die versengende hitte by 'n brandende doringbos ontmoet het. Jy smag na 'n koelteboom of 'n stukkie groen gras om op te sit. Jy is moeg, gekwes, kwaad en seer.

Miskien wil God juis vandag met jou uit hierdie plek van dorings praat. Hy identifiseer met jou pyn. Hy beloof in Psalm 138 vers 6 dat Hy sy kind uit nood sal red. Hy het die Israeliete uit die woestyn van slawerny gered. Jy moet nie dink dat God deur jou omstandighede beperk word nie. Uit die brandende doringbos het God Homself fisies en tasbaar sigbaar gemaak deur te praat, maar ook te luister, deur instruksies te gee oor wat volgende gedoen moet word en deur te sê waarheen nou. Hy is steeds Yahweh, die ewige Ek Is. Hy is in jou midde en Hy gee jou ook instruksies oor waarheen jy moet gaan.

In Christus het God nog verder gegaan - Hy het Homself in ons plek gestel. Deur 'n doringkroon en 'n houtkruis het Jesus God as Redder en Verlosser bekend gemaak. Hy wil ons elke dag, heeldag verlos. Hy wil ons uit ons menslike onvermoë verlos. Hy wil ons uit vandag se ellende verlos. Hy wil vandag se ellende omdraai in môre se troos, want sy Woorde oor jou is gevul met liefde. Ontvang dit. Hy het 'n verwagting vir jou lewe. Lig jou oë op want Hy wil hê dat jy ver en wyd moet kyk. Hy wil vir jou wys wat Hy sien.

In die sagte skemerwind in die Paradys, by die brandende doringbos, sterwend aan die kruis, met die kragtige openbaring van wind en vuur, deur Sy Gees, wil Ek Is deur al die eeue heen net een boodskap oordra: Ek is 'n persoonlike God. Ek is 'n lewende God. Ek wil in verhouding met jou staan, heeltyd, altyd. Ek is in alles by jou. Ek is jou God. Gee jouself vir My in elke oomblik, in alles wat jy beleef en ervaar. Praat met My, Ek sal luister, sê die Here. Ek sal instruksies gee oor wat jy moet doen. Ek sal jou wys waarheen jy moet gaan. Ek sal jou vyande hanteer. Moenie self die farao in jou lewe probeer uitsorteer nie. Ek Is, is die bron van Lewe.

Gaan Na

Skakel met ons

ProudlySA

bg-004
bg-006
bg-003
bg-002
bg-001
bg-005